Die voorste Pretoria eiendomsontwikkelaar Atterbury het saamgespan met beswaarde inwoners van Hazelwood in ’n regsaksie om ’n einde te bring aan die ongereguleerde handel en onwettige ontwikkeling by The Village. Bure van die plaaslike kuierplek, wat informeel en in stryd met stadswette in die semi-residensiële buurt opgeskiet het, beleef al twee jaar lank ’n onhigiëniese nagmerrie van vullis, geraas, vetterige kombuisreuke en toegeparkeerde sypaadjies.
Die regsaksie volg op ’n volgehoue stryd deur plaaslike sakeondernemings en huiseienaars teen die onwettige handel en ontwikkeling deur die sakeman Peter Michaletos se Tytlos Properties CC, sy huurders en ook die Tshwane stadsraad, wat ondanks verskeie klagtes versuim het om in te gryp.
“Ons leef in ’n raserige gemors van vet en olie wat uit die restaurante se kombuiswaaiers blaas en in ons agterplase neerreën; vullisreuke vanaf die vullisdromme wat nie behoorlik geseël is nie, harde musiek uit oop luidsprekers laat in die nag… dit is ondraaglik,” sê Francois de Wet, woordvoerder vir die Hazelwood Huiseienaarsvereniging. Verkeersopeenhopings maak alles erger omdat daar nie genoeg parkering vir die restaurante is nie en motoriste dus onwettig parkeer. Op ’n besige aand kan tot 200 motors getel word wat twee blokke ver voor huise en op sypaadjies ingeryg word, wat sig belemmer en enige loopvlakke blokkeer sodat voetgangers in die straat moet loop.
“Nuwe strukture word gebou sonder dat die nodige ontwikkelingsregte ingestel is en dus is geen van die bouplanne goedgekeur nie – en die stadsraad doen niks om dit te keer nie,” sê De Wet. Hy voeg by dat daar geen waarheid steek in die stories dat ’n nuwe parkeergarage gebou sal word om die parkeerkrisis op te los nie. “Geen planne is goedgekeur nie en daar was geen aansoeke tot hersonering nie, wat die eerste stap sou wees. Dit is alles lugkastele.”
Vir Atterbury, wat pas miljoene belê het die opgradering van Hazelwood se padinfrastruktuur rondom hul nuwe ontwikkeling The Club, is hierdie flagrante verontagsaming van die wet rede tot groot kommer. “Ons kan nie toelaat dat Suid-Afrika verkrummel tot ’n Derdewêreldland met ’n gryp-wat-jy-kan gesindheid nie,” sê hoof uitvoerende beampte Louis van der Watt. “As bure wat belê daarin om van Pretoria ’n wêreldklas-stad te maak en wat reeds vir dekades terugploeg in die stad, het ons ’n verantwoordelikheid om ons stem dik te maak en te help om hierdie potensiële krisis op ons drumpel af te weer.”
Atterbury ontwikkel reeds vir 23 jaar landmerkgeboue in Pretoria en The Club bou voort op hierdie trotse tradisie deur wêreldklas-fasiliteite soos ’n nuwe dagkliniek in die buurt te bou. Pretoria se advokatekamers trek ook binnekort hierheen uit die middestad. “Verantwoordelike ontwikkeling vereis dat mens voldoen aan vele regulasies, wat begin met sonering, om te verseker dat ’n ontwikkeling volhoubaar is en nie ’n negatiewe impak op sy omgewing sal hê nie,” verduidelik Van Der Watt. “As dit elke ou vir homself is en die reëls word by die deur uitgevee, gebeur dieselfde met dienslewering, instandhouding, veiligheid en, op die ou end, lewensgehalte. Ons is teleurgesteld dat die DA raadslid, Siobhan Muller, versuim het om op enige van die vele besware te reageer. As private burgers kan en sal ons nie toelaat dat hierdie verval van standaarde onbetwis deurglip nie.”
Sedert Atterbury en agt ander belastingbetalers gesamentlik regsaksie ingestel het, het die stadsraad aangedui dat hulle dit nie sal teenstaan nie en besig is met die prosesse om die gesondheids- en boustruktuur-oortredings by The Village aan te spreek. Minstens twee restauranthuurders by The Village het onlangs getrek, midde-in gerugte dat die gebied onvermydelik gesluit sal word.




